Storie tyd

 Storie tyd

Die mens is 'n storie dier, ons harte word met stories gegryp. Om stories te skryf is HARDE werk, hoe korter hoe moeiliker. DJ Opperman, "Die kortverhaal is die heel moeilikste kuns vorm, dit neem jou dertig jaar om dit baas te raak!"

'n Vonkie om die goue draad te gee help soveel. Dit is so goed om dinge raak te sien en te deel in 'n storie. 

"Tussen Treine, tussen stasies" storie is geïnspireer deur Richard van der Westhuizen en Lochner de Kock se wonderlike lied. 

"Voshaarnooi" storie van Boerneef se gedig.

"Min of  Meer" gaan oor om op die oseaan te vaar.


Tussen treine, tussen stasies


 

“Elke keer was dit ʼn afskeid, elke keer weer ʼn begin, ʼn honderd haltes langs die spoor, elke stasie het sy eie skim.”

 Die sekelmaan hang stil in die weste, die blare van die bloekoms hang stil.

“Jy kan maar blaas ou Pieter, die groen vlag waai al!” sê Koos.

Pieter trek die ketting in die dak en die skril fluit weergalm oor Hutchinson stasie. Koos trek die hefboom en die 25C begin stadig vorentoe kruip, die Trans Karoo agter hom met die slapende passasiers. Voor op die rook deflektors staan met trots en blink ge-Brasso, “Annemarie

Gou-gou wys die spoedmeter vyftig myl per uur.

“Nog vyf om te gaan dan is ons daar!” sê Koos. “Pieter gee nog so bietjie gas jong, ek maak vir ons koffie!”

Pieter neem die graaf en skep diep en gooi vêr in die vuurkas. Die ag reuse wiele klip-klap op die laste. Koos kyk uit na sterrehemel soos jy net in die Roggeveld sal sien. Biesiespoort kom nader, die sinjaal is op en die nag voorman staan reeds gereed op die platform om die ring aan te gee.

“Hallo Johan!” roep Koos vrolik.

“Mooi ry oom!”

Pieter weet wat nou gaan gebeur, almal in De Aar lag mos daaroor, sit sy graaf neer en leun saam met Koos by die venster uit. Net hulle by die koppies anderkant die van die stasie verby ry en die dowwe lamplig in die plaasopstal mooi sien, val hy luidkeels saam met die oom in, “My oom se motor is ʼn ou masjien ... stuur groete aan Mannetjies Roux!”

“Lekker slaap ou Mannetjies en tannie Charlotte!” roep Koos in die nag.

Die 25C, sy paf-paf mos nie, want C staan vir “condenser”, loop heerlik en navigeer die smal spoor met al die wysheid van haar vyftig jare. Dit word skemer in die Ooste, Drie Susters reeds agter hulle en die reis byna verby.

Hulle maak die wye draai om Beaufort se dam. “Weet jy Pieter, dis net hier waar Dokter sy dogter leer ski het ...”

Die pale verskyn weerskante van die spoor, die dik draad hang oor hulle. Toe hulle Beaufort binnegaan, die geklik van die wielslaners weerklink ... en dreigend staan die blinknuwe 6Es geparkeer.

“Pieter, ek belowe jou niemand sal ooit ʼn draadkar ʼn naam gee nie,” sê Koos verbitter.

Koos en Pieter haak af, rangeer tot by die skuur, draai vir Annemarie om en blaas af. Nou gaan rus om vanaand weer terug huis toe te gaan. Huis toe ... vir die heel laaste keer.

Koos en Annemarie sal saam moet gaan. Sy na die skrootwerf se genadelose sweisvlam en Koos sal weer alleen oorbly. Weer alleen met net sy hoenders in die agterplasie en die ou drywers wat altyd bymekaar staan.

Koos maak sy kosblik oop, daar is ʼn bossie wit rose, vir die laaste keer stap hy na die ou kerkie in die hoofstraat, kniel by die graf en soos hy al die jare doen, en sit wit rose op die graffie van Dokter.

Die volgende oggend, baie vroeg, stap hy weer met nog bossie rose na De Aar se kerkhof om vir haar te gaan gee, nou al vyftien jaar van hom weggeneem, om weer en weer te gaan huil oor ... Annemarie ...

 

Lewensskyfie van iets wat verbygegaan het. Erkenning aan Richard van der Westhuizen, Lochner de Kock en Laurika Rauch se lirieke, die fotos is by Rovos Rail in Capital Park, Waterval Onder en Beaufort Wes geneem. Die 6E is ʼn iStock foto. Die rolprent Roepman en my vele ritte van Hutchinson na die kosskool in Kaapstad as inspirasie.


Min of Meer


“Kom klas, word nou stil en luister mooi!” Juffrou Nereida maak haar stem dik en die meisies word een vir een stil. “Welkom by ons klas, julle sal by my leer hoe om eendag jou werk goed en reg te doen … ek praat en julle luister!”

Adella, Briza en Sirena sit styf teen mekaar, “Ja Juffrou!”

Eenkant sit so ʼn lelike meisie.

“En wat is jou naam dogter?” vra juffrou.

“Dis Nessie en niks met jou te doen nie!” skree sy terwyl haar dik magie op en af wikkel.

Juffrou kyk net ander pad en begin, “Dogters, julle is nou mooi groot. Die eerste wat jy moet verstaan is dat alles wat leef het mannetjies en wyfies, mans en vrouens, koeie en bulle, hane en henne en ook ramme en ooie. Net ons is anders, ons is net meisies. Daarom hoef ons nie hemde te dra nie.”

Die drie maatjies kyk weer na die pragtige juffrou en kyk skaam na mekaar. Hulle bloos dat tot hulle oortjies rooi word!

Nessie sit eenkant, haar arms oor dit gevou asof sy iets wegsteek.

“Nou dogters, ons het werk, ons moet help waar dinge sukkel en mag net verskyn as alles verkeerd gaan. Ons verskyn net as dit skemer is en ons werk altyd twee - twee saam. So, Briza en Sirena julle is ʼn span en sal die noordelike gedeelte diens terwyl en Adella en Nessie vir ons die suidelike area sal hanteer.”

Adella gee vir Nessie ʼn lelike kyk. Nessie voel die trane in haar ogies want sy moet vir altyd weggaan want hier by ons stry jy nooit met die juffrou nie, jy doen jou werk en bly maar net stil.

“Kom jong, ek is nou met jou opgesaal, jy is duidelik hopeloos, en ek sal seker alles moet doen. Kom laat ons gaan werk!” gil Adella.

 “Adella, asseblief, wat pla jou?”

“Ag man bly stil, ek het nie tyd vir julle tipes nie!”

“Adella, ek sal luister praat maar net?”

“Vergeet dit, kom laat ons weg wees voor die son opkom moet ons ver van hier wees.”

Hulle vertrek en so vinnig as hul kan en gaan tot waar juffrou hul heen gestuur het, Kaappunt.

Dit is nog pikdonker, “Adella ...”

“Ja Nessie?”

“Ek is jammer dat ek so lelik met jou was. Almal spot met my want ek is nie so mooi soos julle nie, ek wil ook maar help maar hoe?”

Adella gly nader aan Nessie, hulle is op die groot rots en die hoogwater se sproei spat oor hulle.

“Nessie, jy is slim en jy gaan al die verskil maak. Sit saam met my nou doodstil want hulle het ons nodig. Ons moet nou ons bes doen anders gaan almal sterf …”

Hulle hou mekaar styf vas, hulle is so bang en die trane loop oor hul wange.

 

Die groot skip MSC Orchestra kom reguit na die vuurtoring, die Suidoos waai verskriklik. Kaptein Giovanni roep hard, “Manne ons het moeilikheid, die stuur haak vas, laat sak die reddingsbote!”

“SOS ... SOS ... SOS ... mayday, mayday, ons gaan strand!” roep stuurman Roberto oor die radio. Die passasiers hardloop uit na die reddingsbote met hulle reddingsgordels aan. 

Skielik is daar ʼn doodse stilte, die wind gaan lê en die reuse skip draai vanself stadig om en weg van die land!

Die bemanning staan verwonderd oor die rand van die dek. “Ons is gered!!”

En toe, van bo uit die stuurkajuit, roep  Roberto oor die luidsprekers, “Kyk daar!”

Almal hardloop en sien dit wat net eenmaal in ʼn eeu gebeur …

 

Die bemanning en passasiers draf nader, skielik daal daar ʼn doodse stilte op die skip neer want ... daar op die suidpunt bo-op die groot rots en dof in die skemer lig is die mooiste wesens wat hul hande hoog opsteek, iets wat ons net van kan droom, daardie twee wat kon red toe alles verlore is.

Adella laat haar voor sit sodat almal haar mooi kan sien ... Nessie die pragtigste meermin ...



Voshaar meisiekind

Die woorde “voshaar”, “Bella”, "Lappa", “Natrossies” en “Waboomskloof” gekry van die wondergedig van Boerneef en die lied van Louis van Rensburg, “Voshaarnooi.


 

Koos se Prado stop stadig voor die opstal. Pieter en Annemarie stap vinnig uit, “Hallo Pappa!”

“Dag my liewe kinders!” Die drie druk mekaar.

“Dankie dat Pappa vir haar vir die naweek gebring het. Dis net onmoontlik om nou in die skeertyd weg te kom.”

“Dit is my grootste voorreg,” Koos maak die agterdeur oop, “Kom my kindjie.”

Lydia kyk diep in sy oë, “Dankie Oupa, ek is so lief vir oupa!”

Annemarie tel haar op en Pieter vou sy arms om haar. Koos staan terug, hy haal sy sakdoek uit as hy na die kaal koppie kyk. Die pragtige voshaartjies het nou amper almal uitgeval.

“Matrone en dokter sê sy is rustig. Sy het al die pille saam gegee en ook vir die naarheid. Annemarie, sy sê jy kan maar lekker kook vir haar!”

Lydia neem haar kruk en stap stadig saam met haar pappa en mamma na die huis.

 

“Pasop!!” skree Pieter. Lappa storm om die huis reg op Lydia af, sy dik stert swaai heen en weer en hy spring op en af! Kasper kom by die voordeur uit en begin voor haar rol. Almal wat vir haar lief is, is nou hier en Lydia lag en lag.

Hulle sterte staan nou penorent!

 

Die heerlike ete by kerslig, “Nou ja dis tyd om te gaan inkruip. Lydia, druk net die knoppie langs jou bed en ek is dadelik daar.”

“Goed so mamma ... en mamma en pappa, ek voel so lekker weer, net omdat ek terug op Waboomskloof kan wees. Ek wil tog probeer môre ʼn entjie te gaan stap. Kasper en Lappa kan saam kom en dalk kan ek tot by Bella met die nuwe kruk loop!”

“Doen so my kind, ek gee die selfoon saam dan bel jy as ek moet kom.”

 

Die son kom op oor die Sederberge, dis die mooiste lentedag. Lydia is lankal op en aangetrek en Lappa hardloop weer in sirkels toe hy die tekkies sien!

“Pappa en Mamma, hier gaan ons! Ek sal laat weet as dit sukkel. Sal net tot naby Bella loop en haar weer stout maak met die hanepoot natrossies!”

Sy stap stadig weg met die kruk, Lappa sirkel vrolik terwyl Kasper al in die mik van die volgende kokerboom wag. Hy maau, “Kom julle ouens! As ek nog moet wag sal paar mossies les opsê!”

“Ag ou grootbek,” blaf Lappa. “Klim af daar dat ek jou wys jong!”

Lydia lag vir die twee stouters, sy voel asof sy sweef. Hulle stap tot by die heiningdraad. Die hele trop staan en wei, net een kyk op en sy hardloop na die draad toe en sy mêê, “Kleinnooi!”

“Bella! My hanslammetjie!” Lydia hou haar styf vas. "Jy is so groot! Watse wolhaarstories vertel jy nou al weer jong?”

"Lydia, ek is die grootste ene hier en het tog ʼn kêrel. Dis daai ou wat daar eenkant staan met die lang horings en ek gaan ʼn lammetjie kry!"

 

Sy sit op ʼn groot klip. Sy is so gelukkig, Waboomskloof se ysterklipkoppies, die berge en die rivier, dit is so mooi … en toe, toe begin alles draai voor haar, die mooi versmelt tot ʼn iets anders. Sy lag weer en prewel saggies, “My dieremaatjies, ek sien die Hemel …”

 

“Pieter dit raak nou lank jong, kom ons gaan kyk maar want sy antwoord nie die foon nie.”

Pieter en Annemarie stap vinnig na Bella, sy kyk af na haar kleinnooi ... voor die dogtertjie lyfie is Kasper opgekrul en agter haar rug styf teen haar is Lappa ...

 

Die keer so anders, Kasper en Lappa kyk net na haar en hul se sterte is styf in getrek …


-----------------------------------------------------------------------------------------


Die skryfkursus van Skryfgeheime is gedoen en meer as honderd kortverhale geskryf om te leer en te leer. 


Nog 24 van dit kan jy hier lees.

 Terug na tuisblad










Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog